‘n Woord van Ds. Willie Korb

Liewe Leser,

Dit is met groot dankbaarheid in my hart dat ek aan julle bekendstel die vlerke van liefde webtuiste.

Vir ‘n baie lang tyd wou ek graag ‘n webtuiste skep om die goeie nuus te versprei. Om meer agtergrond te gee oor hoe die naam van die webwerf onstaan het moet ek julle verwys na twee bybelverse;

Jesaja 40:31 – “maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

en

Johannes 3:16 – “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Hierdie twee bybelverse staan sentraal in my lewe as gelowige en as kind van die Here. Deur ‘n baie moeilike tyd in 2010 het die Here my gered en ook kom roep om Sy naam groot te maak. Ek glo dat die Here daar is en ons kragte sal vernuwe. Ek glo ook in die onvoorwaardelike liefde van die Here. Die liefde wat Hy met woord en daad aan die kruis op Golgota vir ons kom wys het.

Vandag staan ek ‘n bietjie meer as tweejaar in die bediening en beleef ek die seer van die wêreld. Ek kyk met nuwe oë rondom my en sien die seer van ander raak, maar deel ook in die vreugde van ander.

Ek het besef dat daar drie dinge is waarsonder mens nie kan klaarkom nie naamlik:

  1. Liefde

Liefde in die eerste plek vir God, dan liefde vir jou gesin en jou famlie en al jou vriende daarby ingesluit liefde vir jou naaste. maar ook liefde vir jouself.

 2. Verhoudings

Ek glo dat sonder verhoudings sou baie dinge in hierdie lewe onmoontlik gewees het. My gebed is dat die wat hier preke en dagstukkies sal lees, dat hulle saam sal groei as gesinne en familie en nie sal toelaat dat trots hulle vernietig nie. Net soos menslike verhoudings belangrik is, so ook is ons verhoudings met die Here ook belangrik.

Die doel van hierdie webwerf is om ‘n tuiste te wees waar mense nader mekaar kan beweeg en ook om mense nader aan God te bring.

  1. Die Woord van die Here

Die Woord van die Here staan sentraal in mense se lewe, dit is die Woord van die Here wat vir ons lewens wil rig en lig. Soos ‘n bekende evangelis gesê het, ons kan nie die woord van God ten volle begryp nie, maar ons kan daarna strewe om ‘n lewe van eerbied en dankbaarheid te lewe tot eer van God, Onse Vader, Die Here Jesus Christus en die Heilige Gees.

Mag die preke en die boodkappe wat julle lees julle altyd laat besef dat God goed is, dat God liefde is, en dat God JOU liefhet.

Ek laat julle met die seën van die Here:

  • Die HERE sal jou seën en jou behoed,
  • Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees,
  • Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Amen.